Namakwaland is ‘n harde wêreld en kinders moes desjare van kleinsaf op die plaas help. Jy was net veilig in die abbavel, want as jy sterk kon loop, is jy rondgestuur.
My ouer broer was op skool toe die ploegreëns val en ek moes as sesjarige seuntjie die trekspan voor die ploeg lei. Die trekwa is die dag gelaai met saadkoring, beddegoed en voer vir die trekgoed. Agter op die wa het Pa-hulle die groen Rudsakpleog met osrieme vasgemaak. Toe ons die agtermiddag by die lande kom, is uitgespan en die span trekgoed voor die drievoorploeg ingespan. Agter het Pa se ses esels getrek en heel voor was Oupa en oom Gideon se twee ryperde ingespan. Oom Gidoen, Pa se jonger broer, het die twee perde met ‘n riem aanmekaargekoppel en vir my die leitou gegee.
Ek het bevrees opgekyk na die groot perde met die stange in hulle bekke. In die trens het Sieraad se twee wit oë wild rondgerol en kort-kort het hy hard op sy stang gebyt. Voor onder sy bolip het sy lang, geel, krom voortande uitgeloer. Ek het geknyp, maar in my kortbroekie het ‘n paar lastige druppeltjies gelek.
Oom Gideon het die riem vir my aangegee en vaderlik gesê: “Boesman, (sy karrienaam vir my) hou die tou styf en moenie lat die perde jou raaktrap nie.” Ek het bevrees na Sieraad en Piet se groot voorhoewe gekyk en dan na my kaal voetjies en die kraantjie in my broekie het nog ‘n druppeltjie of twee gelos. Ek het onder my vaal hoedjie na oom Gideon opgekyk, terwyl my maer kieriebeentjies met die groot knieknoppe soos ‘n wees volstruiskuiken s’n, liggies gebewe het. Oom Gideon moes my vrees gesien het, want hy het oor my koppie gevrywe en gesê: “As ons by die land se koppenent kom, sal ek die ploeg uithaal en dan sal ek vir jou skree om te draai. Dan draai jy haarom … nie te kort nie, want dan kan die esels oorstring trap, verstaan jy, Boesman?” het hy gevra en toe met die lang sweep agtertoe gestap. Hy het omgedraai en gesê: “Boesman, as ek sê ‘vat!’, dan moet jy begin loop – stap reguit na jou pa toe daar voorkant waar hy op die saaisak sit.” Ek het my koppie geknik en voor aan die tou gerem. Toe hy skree: “Vat!” en die sweep waai, het ek die span reguit na Pa toe gelei. Terwyl ek drafstap, wonder ek wat is ‘haarom’? Voor ek my kom kry, toe skree hy: “Koooooom!” Ek vlieg wild om en toe skree hy: “Nie hotom nie, haarom!” Ek vlieg haastig anderkant toe om en stap agter Pa aan wat, met die saaisak oor sy skouer, ritmies met die hand die koring heen-en-weer strooi. Toe ons by die volgende draai kom, skree oom Gideon: “Mooi so, nou hou my kind net die ploegvoor – ek sal die span warm klop.”
Nadat Pa ‘n paar akkers vir die nagskof gesaai het, het ons kort voor sononder uitgespan en Pa is terug huis toe. Weerskante van die wa se disselboom is ‘n seilkrippie vasgegespe en oom Gideon het vir elke esel en perd ‘n bietjie kaf en ‘n stroopblik rog afgemeet, terwyl hy met hulle gesels. “Maaifoelies, julle is darem te uitgelate. So ken ek vir ploegtrek – kyk hoe natgesweet is julle.”
Hy het vir ons ‘n groot vuur in die takskerm gemaak wat hy en Pa vroeër die dag haastig opgeslaan het. Toe dit donker word, het ek al nader aan oom Gideon geskuif, want ‘n uil het kort-kort uit die doringbome geroep en dan het sy maat in die verte ge-hoehoe. My kop het skielik geruk toe ‘n gammajakkals se skril getjank soos ‘n mes deur die aandstilte sny. Ek het nog ‘n tydjie in die donkerte ingetuur en toe my my broodjie stadig geëet. Nadat dit weer stilgeraak het, het ek my beentjies oopgevou om my vir oulaas warm te maak. Oom Gideon het oorkant op die kafsak gesit en sy pyp opgesteek. Hy het ‘n paar dik skywe getrek en toe afgekyk na my kortbroekie. Skielik was daar ‘n grimmetjie op sy gesig. Ek het vinnig my beentjies toegeklap soos ‘n hond wat na ‘n lastige vlieg hap. Ek het besef my dinges het seker by my broekspypie uitgeloer, want ek het nog nie ‘n onderbroek gedra nie.
Oom Gideon het opgestaan, hom uitgerek, na die ooste getuur en gesê: “Ons moet gaan inkruip, ou Boesman, want as die maan môre-oggend voordag opkom, moet ons weer inspan.” “Wanneer kom die maan op, Oompie?” het ek nuuskierig gevra. “As die driekoning daar kom hang,” het hy met sy krom voorvinger in die lug beduie.
Oom Gideon het die lantern opgesteek en toe met sy groot veldskoene die lekker warm vuur doodgetrap. “Boesman, ek het agter onder die wa op die duikerkleedjie vir jou kooi gemaak, maar kom ons gaan staan eers eenkant dat jy nie vannag jou kooi natmaak nie.” In die aandstilte kon ons hoor hoe die esels en perde die rog onder hul groot tande fyn maal en kort-kort het ‘n esel sy voet hard gestamp. “Hoekom stamp hulle hulle voete so, Oompie?” Hy het ‘n vet wind gelos, sy broek toegeknoop en geantwoord: “My kind, hulle se bene raak styf van die regop staan en dan kry hulle koud ook nog. Môre-oggend is die wêreld spierwit geryp …. dis hoekom hulle vir hierdie plek sê ‘Armbakkies’.”
Ek het nie verder gevra nie, want die koue het my van agter bekruip. Toe ek my koue lyfie met klere en al onder die harige velkombers inwikkel, het ek bang geword, want in die verte het ‘n jakkals geskree. Ek het omgedraai op my knietjies om my gebedjie, wat Ma my geleer het, op te sê. Ek het geruk soos ek skrik toe ‘n perd of esel my gebedjie met ‘n harde proes onderbreek. “Ag, Heretjie, help my tog vannag dat Sieraad my nie sal byt of my voetjies sal raaktrap nie. En as dit kan wees….’n onderbroekie. Lat Ma tog ‘n slag vir my ‘n onderbroekie by die smous koop …..assamblieftog. Amen.”
Ek het wakkergeskrik toe oom Gideon aan my skud. Ek het my ogies gevryf en in die donkerte na my hoedjie gesoek. Op die rand het ‘n halfmaan gehang en in die skerm het ‘n staanvuur gebrand. “Kom vat vir jou koffetjies, ou Boesman, solat ons kan inspan.” Ek het opgespring en vuur toe gehol en my soos ‘n wurm al in die rondte gedraai om my warm te maak. Oom Gideon het die swartgebrande koffieblik vinnig met sy groot kaalhande van die kole afgehaal en toe vir ons ingegooi. Terwyl hy my bekertjie roer, kyk hy na my kaal voetjies. “Kortendag moet jou pa vir jou ook ‘n paar velskoentjies maak, want ‘n man wat al kan ploeglei, moet skoene hê,” het hy my liggies geprys. Die kafsak langs die vuur was natgedou en ek het die lastige watertjie onder my neus met my baadjiemou afgevee en toe blaas-blaas my koffie gedrink.
Veels te gou na my sin het hy sy beker neergesit, opgestaan en die lantern gevat. “Sluk-sluk, ou Boesman, ons moet inspan.” Ek het vir oulaas my handjies warmgemaak en toe agter die lanternlig aangedraf. Toe ons naderkom, het die twee perde saggies gerunnik en in die dowwe lig het hul oë geblink. Hy het die lantern vir my gegee en gesê: “Lig jy vir my, ek sal inspan.” Bleekbok en Springbok was die agteresels …. getrou en sonder geite. Naasagter is die beneukte Steenbok, wat soms kopslaan, ingespan en langs hom Klouterbok, die kriewelgat, soos Pa hom altyd genoem het. Hotvoor het Donkerbok met sy spitsoortjies getrek en langs hom die op-en-wakker Glansbok. Voor het oom Gideon sy ryperd, Piet, ingespan en langs hom Oupa se haastige witskimmelperd, Sieraad.
Oom Gideon het voorom gekom, die lang sweepstok in die nat grond gedruk en gesê: “Boesman, hou die ploegvoor en ek sal vir jou roep wanneer jy moet draai.” Hy het sy pyp opgesteek, die sweepstok uit die grond getrek en vir oulaas gewaarsku: “My kind, oppas tog dat die perde jou nie raaktrap nie … hou die leiriem die heeltyd styf.”
“Vat!”, het hy oomblikke later geskree. Ek het vorentoe gespring en die span in die dowwe maanlig na die ploegvoor gelei. Agter het ek dofweg gehoor hoe knip hy die Rudsakploeg in en toe kraak die trekketting. Rondte vir rondte het die drieskaarploeg die aarde omgekeer en in die stil naglug het die geur van varsgeploegde grond gehang. Kort-kort het ‘n esel agter my gehoes wanneer sy keel toetrek teen die borsplaat. Voor het die twee perde se tande op hul stange geknars soos hulle dit vasbyt. Kort-kort het een van die trekdiere ‘n harde rogpoepie in die oggendstilte gelos as die ploeg deur die taai klei sy pad oopskeur. Agter my kon ek die perde se warm jagende asems ruik, want ploegtrek is nie speletjies nie. Die koue van die voordagmôre het stadig maar seker toegeslaan, want jy kon hoor hoe die grond kraak as die hoewe van die esels deur die kors trap. Ek het die leiriem al stywer vasgeklem, want ek was bang dat ek my greep sou verloor. Die vrees dat Sieraad my kan byt, het vlak in my binneste kom lê en ek het kort-kort in my verbeelding gesien hoe sy lang voortande my broekgat hap. Ek het my ruggie al krommer getrek, want hy kon my ou maer lyfie mos middeldeur byt, soos Lady nou-die-dag die muskeljaatkat wat Ma se hoenders gevang het. Ver agter my het oom Gideon ‘n deuntjie gefluit en kort-kort die agteresels aangepraat. Skielik het ‘n naguiltjie vlak voor my opgevlie en die voorperde het gesnork en hulle koppe opgeruk. Die volgende oomblik voel ek hoe Sieraad my voetjie vastrap en ek tussen die pote van die trekgoed beland. Ek het ‘n hengse bek opgesit en oom Gideon het gelukkig met ‘n lang, skril gefluit die trekspan gou tot stilstand gebring.
Die esels het elkeen ‘n harde snork gegee vir die rasende ding wat tussen hulle bene deurkruip. Oom Gideon het my soos ‘n lappop opgetel en die nat grond van my kleertjies afgeslaan. “Sierraad het my raakgetrap”, het ek aanmekaar gesnik, terwyl hy my bewende lyfie vashou. “Toemaar, as ons weer die koringmeul inspan, sal Oompie die vuiles se gat warm klop,” het hy my getroos. Hy het ‘n vuurhoutjie gestryk en na my voetjie gekyk. “Mastag, man, hy het mos jou hakskeen se vel afgetrap!” Toe ek die bloed sien, het ek harder gesnik. “Ek wil nie meer lei nie ….. my hoed is ook weg.” Oom Gideon het besef dat hy sy kaarte nou moes reg speel, anders is hy sonder ‘n touleier. Hy het weer ‘n vuurhoutjie gestryk en my hoedjie tussen die esels se pote uitgehaal, die sandjies afgeslaan en weer op my kop gesit. “Vat jy die sweep – Oompie sal hulle tot by die land se koppenent lei en dan maak ek eers vir ons ‘n lekker vuur.” Terwyl hy sukkel om die vuur aan die brand te kry, het my lyfie gebibber van die koue. Toe die taaibosvuur lekker hoog brand, het ons vir ons warm gemaak.
In die vuurlig het die span trekgoed gestaan en die wasem het uit hul natgeswete lywe getrek. Oom Gidoen het afgekyk na my geswelde voetjie en gesê: “Ou Boesman, die bleddie perd het mos jou voet lelik raakgetrap. Ek dink ons span hom met die volgende skof heel agter in – dan sal hy bars.” Hy het na die ooste gekyk. “Die dagster is al uit – netnoumaars breek die dag en as die son uitkom, span ons uit en dan eet ons brekvis.” Ek het my traantjies afgevee en met nuwe belangstelling na hom geluister. Hy het in sy baadjiesak gevroetel en sy troefkaart uitgehaal – ‘n halwe langlekker……effe bruin van die tabakstof, en dit vir my gegee. Terwyl ek sukkel om dit skoon te suig, het hy vaderlik oor my koppie gevryf en gesê: “Nou’s ons lekker warm, gaan vat maar weer vir ons die tou dat ons die skof kan klaarmaak.”
Toe ek effe huiwer, sê hy weer: “As ons uitspan, eet ons lekker brekvis.” Ek het maar weer gehoorsaam die tou gaan vat en terwyl ons ploeg, was my gedagtes kort-kort by die brekvis. Waar sou hy die vis vandaan kry? Later het dit begin lig raak en die akker het einde se kant toe gestaan. Toe die son oor Soutfontein se rand loer, het oom Gideon die ploeg regoor die wa uitgeknip en ‘n lang fluit gegee. Ons het uitgespan en die esels gaan voer gee.
Ek kon nie wag om die vis te gaan eet wat hy my belowe het nie. Toe die vuurtjie lekker brand, het hy vir ons elkeen ‘n beker koffie gegooi en toe vir my ‘n sny brood gegee. Terwyl my tande in die botter spoormaak, het ek by myself gewonder wanneer hy die vis uithaal waarmee hy voordagoggend gebrêk het. Ek het hom egter nie daarna uitgevra nie en my broodjie klaar geëet, maar sy belofte het in my koppie bly vassteek.
Laterjare in Wallekraal se laerskool, het ek egter by antie Visser, ons juffrou, geleer wat brekvis beteken.
(Gert Sarrisam)