Toe ek ‘n kind was, het die oumense gepraat van “stokiestee”. Laterjare hoor ek “hysenaam” is eintlik Rooibostee. My oorlede moeder kon ‘n stokkiestee brou, dat jy hom veraf kon ruik en jou watertand maak. Dit was goedkoop en dourie jare was dit al drinkding, behalwe melk, wat vir ons kinders beskore was.
As jy bedags moeg uit die veld kom, het sy vir jou ‘n beter “geel tee” gemaak, soos dit onder die bruinmense bekend is. Aan die beker se binnekant het dit na jare ‘n geel aanlaaisel gemaak. Saam met die tee het sy vir jou die vars boerbrood se “koppie” afgesny en met geel plaasbotter gepleister, dat jou tande spoorgemaak het as jy die krakerige korsie afbyt. Dit was koningsmaaltyd vir ‘n kind, veral as sy dit nog met ‘n dun lekseltjie gouestroop “opgetop” het.
Toe ek en my vriende, Koos Koek en Bassie, ‘n paar jaar gelede op Gifberg by Vanrhynsdorp vir ‘n naweek gaan uitspan het, het ek die wêreld waar hulle hierdie tee verbou, beleef. Ons is ook die proses vertel van hoe die tee ge-oes word, tot dit in die sakkies verpak word.
Laaste tee voor ons optrek
Toe ons die dag terugry, is die goeie herinnering uit my vulletjiedae nog so helder, dat ek daar-en-dan besluit ek ry nie huis toe sonder my stokkiestee nie. Terwyl ons na die stalletjie ry, weet ek dat Rooibostee nie baie welkom is in my huis nie, want elke keer kook my rooitee se ketel oor – wat ‘n omgekrapte vrou!
Met die instap steek ek al my hand in my sak en toe ek die noot op die toonbank neersit, sien ek dis nie ‘n “buffel” soos ek gedink het nie, maar ‘n “tier”. “Gee asseblief hiervoor vir my Rooibostee,” sê ek vir die dametjie, wat haar oë rek toe sy die groot noot sien. Sy kyk my verbaas aan en vra: “Oom, wil Oom vir die hele R200 tee hê?” Ek knik my kop bevestigend, sonder om te vra wat die prys is. ‘n Paar minute later word die toonbank volgepak met ‘n paar kartonne tee.
“Liewe jerlikheid, Gert Sarrisam, wil jy jou nou gaan vrêk tee suip?!” laat Koos Koek hoor. Toe ons die kartonne inlaai, het almal ‘n stuiwer of wat in te gooi, maar ek hou my doof vir al die negatiewe aanmerkings. Toe ons by die huis kom, sê ek vir vroulief: “Moet nou nie die tee gaan bêre nie – maak asseblief gereeld vir my rooitee.” Ek kon sien ek druk op ‘n verkeerde klawer.
Toe broer Sarel, wat 4 jaar ouer as ek is, kom kuier, vertel ek hom van die klomp tee wat ek gekoop het. Ek sê toe: “Ek het nou uitgereken: as ek drie maal elke dag ‘n koppie rooitee drink, sal ek ongeveer 150 jaar oud moet wees voor dit op is.” Ewe droog merk hy op: “Toemaar, as jy dit nie uitkry nie, sal ek dit verder drink.”
Hierdie opmerking het my vasberade gemaak om meer tee te drink, maar nie sonder dat ek die teebrouer die josie in maak nie, want as ek hoor, dan sê sy: “Die dekselse tee het alweer oorgekook!” Hierdie ou klagtetjies val ook op my ou dowe oor, want as ek die rooitee sluk, kry ek ‘n innerlike lekkerte en verlang na my grootwordjare. Dan wens ek net vir ‘n sny vars boerbrood met beesbotter.