Dis al baie jare wat ek met jy gehoor sukkel. My regteroor is feitlik doof, want die oordrom het gebars en gesweer van my kreefduikery. Ek leef daarmee saam, maar my familie het nou besluit: Genoeg is genoeg! Trouens, hulle het my doof verklaar, want ek sou soms ‘n verleentheid blyk te wees as ek nie reageer as iemand met my praat nie. Ek moet nou oor-‘fountjies’ kry.
Hoekom weet ek nie, maar ek laat my ompraat en so vat ons die lang pad Kaap toe. Die laaste paar dae het ek alles probeer om die afspraak te “sidestep”, maar vroulief het alles klaar gereël . Met ‘n “jy het ons belowe” het ek langtand my belofte probeer nakom.
Ons Namakwalanders maak maar swaar ons ou geldjie en in my agterkop weet ek dat die nuwe modelle my +- 100 dorperlammers gaan kos. Die oggend het ek hulle met ‘n swaar hart in die voerkraal gaan groet, want hulle is vet ….. om te dink hulle moet vir my ore ge-offer word. Terwyl ons ry, dwaal my gedagtes kort-kort terug en ek sien hulle in my geestesoog rustig onder die doringboom lê en herkou.
Vrydagoggend is die oomblik van waarheid en ons afspraak is net na agt. Skoorvoetend klim ek in die bakkie, want ek besef dat ek nie uit hierdie penarie sal ontsnap nie. Terwyl ons nog op pad Kaap toe was, het Desiré, die dametjie met wie ons die reëlings getref het, gebel en verskoning gemaak dat sy nie self teenwoordig kan wees nie, maar die versekering gegee dat die ander dametjie net so bruikbaar en bekwaam is.
By die eerste verkeerslig koop ek vir my ‘n koerant en terwyl ons op Jip de Jager ry, voel ek om vir my vrou te skree: “Kom ons draai om!” Toe ons by die Oorinstituut indraai, is ek soos ‘n steeks donkie. Ek bly sit, terwyl die laaste minute aftik. “Kom, my skat, dis tyd.” Vroulief maak my deur oop en ek voel of ek ter slagting gelei word.
Ek kry eindelik my sit en verdiep my in my koerant – “Zuma maak skandes,” is die hoofopskrif. My vrou stamp in my ribbes. Soos ‘n skim het sy verskyn en staan voor my. “Mnr. Engelbrecht?” Ek staar na die jonge dame en knik instemmend. Sy het ‘n lang, grys “skirt” aan en onder loer twee klein voetjies in sandale uit. Sy het ‘n bruin toppie aan en om haar skouers ‘n gebreide “tjalie”. (Eintlik ‘n mooi gehekelde bolero! H) Haar bruin haartjies is agter haar ore ingevou en in haar oortjies sit twee klein bruin oorbelle wat lyk soos twee tkoene-beebessies. Ek staan in paaiemente op en haar klein handjie raak weg in my groot, bruingebrande boerehande. Sy “smile” vir my met haar mooigevormde bekkie en nooi my na haar swart stoel. Sy’s klein gebou, soos ‘n laerskoolkind, maar haar stappie en houdinkie is vol selfvertroue. Teen die muur hang ‘n sertifikaat van Stellenbosch en ek sê vir myself dat sy seker genoeg weet van die oor wat in deursnee regs van ons in ‘n groot raam hang. Ek lees “The anatomy of the ear”. My oë rus op die middeloor wat lyk soos ‘n reuse slak en onder hom die stiebeuel wat soos ‘n krap se voorklou lyk. Voor haar staan ‘n rekenaar en een voor my. ‘n Band word om my kop vasgemaak en ‘n mikrofoontjie daaraan geheg. Ek kyk na haar klein handjies – aan elke middelvinger pryk ‘n silwer ringetjie en ek wonder of sy vas is of loop sy nog los?
Sy plaas die gehoorstuk in my linkeroor en begin verduidelik. Sy is besig om die frekwensies op die rekenaar te stel sodat die grafieke almal dieselfde lyk. Ek knik my kop gehoorsaam soos ‘n skoolkind en vra: “Kan ek maar my koerant lees terwyl jy besig is?” “Ja, meneer, maar onthou daar sal ‘n paar vreemde geluide wees.”
Skielik hoor ek die dieseltrein van Karasburg bulk en die volgende oomblik die geluid van iemand wat in ‘n bamboes blaas. Dán hoor ek ‘n kiewiet en dán weer ‘n sonbesie. Eindelik is sy tevrede met die grafiek. ‘n Koppie koffie word voor my neergesit. “Ek skakel nou u gehoorstuk aan,” sê sy. Ek vou die koerant toe en wip soos ek skrik. Die geluid van die koerant is so hard en bekend soos die dae toe ons kinders die geluid van ‘n lekkerkardoes gehoor het. Sy glimlag. Vir die tweede keer skrik ek vir die harde geluid toe ek die koppie in die piering neersit. Dit klink of jy ‘n klip op ‘n sinkdak gooi.
“Hoor u goed?” vra sy. Teen my sin sê ek: “Ja, amper té goed!” My oë rus op die regteroor se gehoorstuk wat voor my lê – skaars groter as ‘n Sunrise Toffie. Om te dink hulle twee kos 100 dorperlammers! In my verbeelding laai ek hulle met ‘n swaar gemoed op die veelorrie. Hulle is vet en mooi.
“Nou vir die ander oor,” onderbreek sy my mymering. Hier sal jy jou vasspring, dink ek by myself, want toe ek laaskeer by die oorspesialis was, het hy in my oor gelig en die son aan die anderkant gesien deurskyn. Toe is dit weer die trein, bamboes, kiewiet en laaste hou die sonbesie aan met skree. “Hoor u?” vra sy bekommerd. “Nee, dame, dis net hierdie sonbesie wat nie sy bek wil hou nie.” “Meneer, ek is jammer, maar ek het die frekewensie tot op sy laagste gestel, maar ongelukkig sal ‘n gehoorstuk in u regteroor van geen nut wees nie.” “O,” sê ek en in my verbeelding sien ek hoe 50 lammers weer van die lorrie afspring. Ek glimlag ingenome.
In die koppie se piering lê ‘n pienk klapperlekker. “U brein moet nou leer om alle geluide gewoond te raak en dit sal tyd vat. Selfs as u kou, sal die geluide vreemd wees.” Ek sit die lekker in my mond en toe ek kou, hoor ek oupa Joos se velblaasbalk blaas en trek, blaas en trek.
Na meer as twee ure se les wat soos katkisasie voel, stap ons uit. In my linkeroor is die gehoorstel en dit voel of ek die Grootboek letterlik kan opneem wat sê: “As iets jou pla, kap hom af!” In my geval is dit: “Haal dit uit en gooi hom weg!”
Toe ons weer op die snelweg is, vra my vrou: “Hoe vind jy die verkeer?” “Dit traak my nie – dis mos hulle petrol wat hulle uitry”, antwoord ek moedswillig.
(NS. Die gehoorstel lê knus in die korreltjies wat dit moet droog hou en word sover net met hoë uitsondering uitgehaal. Ek weet nie of my stembande (en geduld) dit gaan hou nie! Hou duim vas. H)