Moenie iemand op sy baadjie (of hare) takseer nie!
Vir meer as 20 jaar al ontvang ek en Hestelle gaste tydens die blommeseisoen. Die meeste van hierdie gaste vergeet jy sommer as hulle die werf uitry, maar dan is daar enkeles wat so ‘n indruk op jou maak, dat jy hulle nog steeds onthou en wonder wat van hulle geword het. So ‘n geval was Peter van Pietermaritzburg in Natal.
Dit was laat agtermiddag toe hulle voor die deur stop. ‘n Lang, lenige man, met ‘n poniestert wat op sy rug hang, het uitgeklim. Met my vooropgestelde waarneming en veroordeling van ‘wie en wat klim vandag by ons af?’, het ek hom stadig tegemoetgeloop. Toe ek die lang, grys vasgebinde hare sien, sê ek vir myself: “Jy’s seker ‘n Ingelsman. As ek jou hare losmaak en jou aan jou voete vat, sal jy darem lekker die werf skoonsleep.” Hy het soos ‘n jintelman sy vrou se deur oopgemaak, asook hulle passasier s’n. Vrees dat hy rou Engels was, het my beetgepak, want ek het ‘n lang en ongemaklike aand sien kom, waar ek weer Ingelse woorde moet soek om die geselskap aan die gang te hou.
Groot was my ontnugtering toe hy my hand stewig vasvat en ek in die sagste, liefdevolste oë kyk wat ek nog ooit in ‘n man gesien het. Dis asof daar ‘n warmte uit hom straal toe hy sê: “Mnr. Engelbrecht, dis werklik ‘n voorreg om julle te ontmoet.” Nadat ons almal gegroet het, stap ek as verligte man huis toe, maar die Rooitaal se klanke ontglip nie my waaksame ore nie.
Na ete het ons godsdiens gehou en toe ek “amen” sê, toe trek Peter los en begin sing. Sy vrou en hulle vriendin begin in stemme saamsing dat ek hoendervleis kry. Dis of die tyd stilstaan en jy alles wil indrink wat rondom die tafel gebeur. Dit was so aandoenlik, dat toe hulle later ophou, ek en Hestelle hulle versoek het om aan te hou. Terwyl hulle sing, het hul gesigte dankbaar en blymoedig gestraal. Dit was die eerste keer dat Engels my nie gepla het nie, want dit was aangrypend.
Nadat ons tee gedrink het, het hulle openlik begin getuig. Peter het vertel van hulle boerdery in Natal en van sy pragtige mooi beeste waarmee hulle geboer het. Hy het ‘n Limousinstoet gehad – van die beste in Natal. Die boere het van heinde en verre gekom om bulle by hom te kom koop. Die beeste het op aangeplante weiding geloop en was altyd blinkvet. Hulle boerdery het gefloreer.
Rondom hulle was ‘n groot plantasie wat soos ‘n perdeskoen om hulle plaas gelê het. Een middag, terwyl hulle aan tafel sit, het hy die veraf gerammel van donderweer gehoor, maar hulle was daaraan gewoond. Skielik het die telefoon gelui. Dit was sy buurman. “Peter, die donderweer het die plantasie aan die brand geslaan en die wind is baie sterk. Wees op julle hoede – dit brand af in julle rigting.” Peter het op die stoep van hul grasdakwoning uitgestap en die donker rookwolke in die verte gesien. Hy het onmiddelik almal per radio laat weet. Op die stoep het hy en sy vrou die vlamme en die donker rookmassa staan en dophou, terwyl hulle hoor hoe hulle beeste bulk en voor die vlamme probeer uitvlug. Die vlammesee het al wyer uitgekring en hul beeste teen die grensdraad vasgekeer. ‘n Paar groot beeste het waansinnig deur die draad gebars en gevlug, maar die meeste is deur die rook oorval en het doodgebrand.
Hulle kon reeds die geweldige hitte voel en die vlamme was al ‘n paar honderd meter van hul imposante woning af. Peter en sy vrou het gebid dat die wind moet draai, maar daar was nog net ‘n paar minute oor. Hulle het elkeen inderhaas in ‘n voertuig gespring en gevlug sonder dat hulle enigiets uit die huis kon red.
Twee ure later het hulle teruggekeer, terwyl ‘n paar balke nog gesmeul en net die swart mure gestaan het. Die skok was so groot, dat hy en sy vrou mekaar net kon vashou, terwul die halfgebrande beeste aanhoudend in die verte bulk. Hulle het huilend tussen die swart mure deurgeloop met die hoop dat iewers iets kosbaars behpue gebly het.
Toe hulle gebroke na hulle voertuie terugstap, het hulle vir mekaar gesê: “Ons het binne ‘n paar uur alles wat ons besit en deur die jare bymekaargemaak het, verloor, maar die vlamme kon nie die liefde wat ons vir ons Hemelse Vader het, wegbrand nie.”
Ek het asof gehipnotiseerd na hierdie hartseer verhaal geluister en vir myself gevra: “Hoe sal ék optree as ek van alles gestroop word?” Dit het my diep laat nadink Ons is geneig om alles wat ons bymekaar gemaak het, ons eie te noem. Dit het my net weer laat besef dat alles maar net aan ons geleen is.