Ek het blykbaar ‘n ‘blog’ wat soos Lot se vrou vir maande nie beweeg nie. Met hierdie skrywe wil ek sy handbriek ‘n bietjie skietgee. Eintlik wil ek net sê: “Een, twee, drie – blog myself!”
Ons was laasnaweek weer see toe en toe ons afklim, lê die see soos ‘n dam. Ek was vroeër versot op kreefduik, maar met my heup- en knievervanging het ek ook hierdie geliefde oefening moes groet. Saterdagoggend toe ons opstaan, toe lyk die groot water nog kalmer … so asof hy my koggel. Langs die brekvisvuur sê ek vir broer Sarel: “Man, ek het darem vanoggend baie lus en klim weer in die water, maar ek het nie meer ‘n duikpak nie.”
Ek raadpleeg vir vroulief, maar kry net ‘n koue skouer, want sy het my verbied om weer te duik. Dis toe dat ek na my seun, Nelis, se duiksak begin soek en alles in die karavaan wat na ‘n duikpak lyk, begin uitpak. Binne-in die kis onder die matras ontdek ek verflenterde en gelapte oorblyfsels van my ou duikpak en bondel alles in ‘n sak om sonder die steun van vroulief na die kreefgate te vertrek.
Terwyl ons ry, dink ek aan my 65 somers agter die rug en my groter maag wat die afgelope jare se onaktiewe lewe weerspieël. Ek verlang na vroeërtyd toe ek nog rapats was en soms vir meer as vier ure in die water kon wees. Toe ons by die kreefbaai stilhou, wonder ek by myself of ek die regte ding doen, want ek het nie eers oorplakkies (ear buds) nie en ek het reeds die gehoor in my regteroor verloor as gevolg van kreefduik … maar die gevoel daar diep onder die water waar jy jou afsluit van die boerdery en vergeet van al jou sorge, kry die oorhand.
Vinnig raak ek van my klere ontslae en sit soos ‘n Boedhabeeld op die klap van die bakkie – gereed vir operasie aantrek. Skielik kom ‘n voertuig om die duin en ek vat bondel so wat ek kan en bedek my kaart en transport met ‘n stuk duikpak. Sarel lag vir die gedoente en ek vat my ou duikpakbroek, waarvan die pype vol gate is, en probeer dit aansukkel, maar dit haal skaars bokant my knieë, toe kon dit nie verder nie. Ek beveel vir Sarel: “Sny af!” “Man, ek kan nie afsny nie – jou pote is nog binne.” “Jong, sny af! Ek sal jou sê wanneer dit raak is”, sê ek bars, terwyl ‘n koue noordewind deur my grys borshare speel. “As jy ‘eina’ sê, is dit verdomp te laat!” sê hy terwyl hy versigtig die pype van die ou duikpak onderkant my knieë afsny. Vervolgens skud hy my soos ‘n koringsak met alle mag in, terwyl my ou pens onder my borskas opstoot dat ek moet soek vir ‘n asempie. Ek moet aan die bakkie se tralies vasklou en so trek hy die rubberbroek op en stop die oorhangvet met sy vingers in die broek in. Dit gaan wild en ek los kort-kort ‘n lang steun soos ‘n koei wat wil kalf.
Toe ons nie meer vorder met die broek nie, vat ons die baadjie en sny die moue ook af. Was die broek se aantrek ‘n operasie, dan was die baadjie se aantrek ‘n gesmart, want Sarel het amper my arm uit lit gedraai om dit agter in die mou te kry. Die see is later leeg en ek is natgesweet, maar ons vorder nie. Later trek ek dit oor my kop en steek my hande in die lug sodat Sarel my arms een-een insukkel, terwyl ek kort-kort uitkry: “Eina, jy maak my seer!” Eindelik is dit nog net die dwars “zip” wat moet toe, met ‘n wit pens wat met ‘n lang punt uitloer. Ek trek my maag in en Sarel probeer met albei hande die “zip” na mekaar bring. Ek moet toetrek, maar as ek trek, blaas ek ‘n bietjie asem uit en raak die “zip” weer verder van mekaar. Hierdie proses het lank geduur. Ek is later stokflou en blou in die gesig en dit voel of my lyf heel in gips is. Toe die “zip” eindelik toe is, kan ek skaars asemhaal en ek waggel soos ‘n pikkewyn af water toe.
Ek val sommer soos ‘n dronkie in die eerste kreefkuil en sak met die hulp van ‘n bamboes af bodem toe. Toe ek na jare weer die hakerige horings van ‘n groot kreef voel, sê ek vir myself: “Die gesukkel met die duikpak was erg, maar die ontspanning onder die water, maak alles die moeite werd!”