Namakwaland en die Boesmanland kry maar min reën, maar as dit die slag kom reën, is dit ‘n dankbare ou wêreld. Sy mense is dan so gelukkig en opgewonde soos kinders voor ‘n skoolvakansie.
Een jaar, kort na die depressie, toe die reën bietjie lank wegbly, soek almal na ‘n reënteken. Toe ou Andries een oggend wakkerskrik, stamp hy opgewonde aan sy vrou. “Oumens, ik hit vannag sleg geslaap, want my ou knieë hit heelnag gepyn. Dis ‘n teken vir onweer.” Mietjie is nou helder wakker en antwoord: “Ja, ou man, ik hit die laaste paar dae opgelet hier’s so baie vlieë. Gister toe ik gaat hout haal, toe kry ik gladsemaal twee slange wat uit die laagte uit loop.”
Andries skud sy velskoene uit en terwyl hy aantrek, sê hy vir Mietjie: “Ouvrou, maak solank vir ons ‘n trekseltjie koffie – ik stap gou buitentoe.” Die dag het reeds gebreek toe hy buite op die werf na die stilte staat en luister. Hy soek na die dagster, maar sy oë val op die volmaan wat skuins namiddag hang en toe sien hy dit waarvoor hy so lank gewag het – ‘n kring om die maan. Daar kom ‘n roering in sy binneste. Hy knoop vinnig sy gulp toe en haas hom kombuis toe om vir Mietjie die goeie nuus te gaan vertel. Mietjie staan voor die vuurherd toe Andries lostrek: “Oumens, daar’s‘n kring om die maan en op die stoep kry ik boonop ‘n toktokkie en ‘n doodhouer-spinnekop.” Mietjie skink die twee enemmelbekers vol moerkoffie en hulle gaan sit by die kombuistafel. “Ou man, jy seg daar’s ‘n kring om die maan ……. dis ‘n goeie teken, want my vader het altyd geglo drie dae daarna kom die reën.” Andries doop sy hardebroodjie (beskuit) tydsaam in sy koffie. “Ik stap vemôre ‘n bietjie oor na ou Hennerik toe, want as dit so begin neuk, bly hy mos hoed-in-die-oë. Nou lat ik hoor sy ryperd aan die papies vrek is, is hy halfpad nek-onder-lyf, seg Ketrina vir my.”
Mietjie knoop haar kappie vas en gee vir Andries ‘n slopie. “Loop tog daar by Jan Pap-hulle langs en gee vir Betjie die medisyne … dis vir haar suiptjint se loopmagie.” Andries vat sy kierie en groet vir Mietjie. Toe hy die slopie vat, brom hy: “Ik weet ok nie wanner hy wil stop nie, want sy werf lyk al soos ‘n graatjieheuwel. Hy wil ok nie ‘n steek werk nie.” “Toemaar, ou man, ons help maar waar ons kan ….. ons maak maar soos die Woord sê.” “Ja, maar die Woord sê ok: ‘Wie nie werk nie, mog ok nie eet nie.’”
Terwyl Andries deur die laagte stap, sien hy die rook by Betjie se bakoond en hy dink by homselwers: die dag toe Jan Pap en Betjie met hule donkiekarretjie en troppie vee hier verbygetrek het, het hy en Mietjie innig jammer vir hulle gevoel en vir hulle ‘n sitplekkie gegee. Darie dag toe hulle hul matjieshuisie langs die bloekomboom kom opslaan het, het hulle net twee natneuskjinnertjies gehad. Nou trek hulle al by ag en Betjie is alweer met-die-lyf. Ai, as die man net ‘n slaggie sy twee hanne wil uitsteek, maar dis net die uithaler Betjie wat die spul aanmekaar hou. Jan Pap het as kind die bynaam gekry omdat hy glo te lui was om sy kos te kou.
Andries steek verbaas vas en hy kan nie glo wat sy oë sien nie – Jan Pap is besig om hout te saag en stukkend te kap vir Betjie se oond en die sweet tap hom af. “Môre, Jan! Lyk my Betjie het jou ingespan vemôre?” “Ja, oom Anneries, sy’t my vanaand nie kooi geblo nie – toe moes ek maar inspring!” “Hoe lyk dit hier by julle?” “Nee, oom Anneries, hier’s al twee bokke van my vrek, maar hulle sê mos ‘waar is, moet af’.” “Dis ok waar, Jan. Gee die medisynetjies vir Betjie. Ik stap bietjie oor na ou neef Hennerik toe.”
Ou Hendrik sit koponderstebo toe Andries die onderdeur oopstoot. “Môre, buurman! Hoe gaan dit?” Hendrik lig sy kop effe, gee ‘n moedelose sug en antwoord skaars hoorbaar: “Nee, neef, dit gaat sleg. Jy weet mos van Darling ….. ik hit so gehoop ik sal hom deurhaal.” Hendrik se oë trek water en hy stotter deur die trane: “Hy’t my gedra … elke dag ……hy was my vrind …..nou’s hy nie meer daar nie…. ik hit hom self gaat begrawe,” snik hy. “ …en nou hierie droogte.”
“Neef Hennerik, dit sal kortendag kom reën, want vemôre toe ik na jou gestap kom hit, hit ik gesien hoe die vaal gruisweer uit die noorde trek en dis ‘n goeie teken.” Hendrik skud sy kop en sê moedeloos: “Neef Anneries, ik sê nou-die-dag vir Ketrina, hierie jaar hit mos ‘n 8 in en ‘n jaar met ‘n 8 in was nog altyd ‘n ingat jaar. Boonop hit my bokramme vanjaar ‘n ronne veertien dae alleen geloop en nie mit die bokke gespook nie … dis nie ‘n goeie teken nie. Ik voel hier kom ‘n droë jaar, want ik hit nog nie ‘n reënteken gewaar nie.”
Katrina kom van buite af in. “Neef Anneries, jy kom vemôre of jy gestuur is, want nou’s my raad al opgedroë. Praat tog vir my ou man weer moed in. Hy sit elke dag op ‘n hopie soos een wat ‘n doodstyding gekry het.” Terwyl Andries die beker koffie by haar vat, sê hy: “Niggie, het jy die laaste paar môres hierie plat sleepmis, wat so in die laagtes lê, opgelet? En gistermôre het dit so opgegee in die ooste. En wat van die skilpaaie wat die laaste paar dae so loop?”
Ou Hendrik lig ewe belangstellend sy kop. “Neef, kokke-y hulle? Want as hulle nie kokke-y nie, meen hulle lopery bog. En ik hit ok nog nie die nut van ‘n ystervark en sleepmis gesien nie,” gooi Hendrik water op die vuur. Andries stop sy pyp tydsaam en toe hy die eerste trek gee, vra hy: “Neef Hennerik, het jy gesien die warrelwinde gisternamiddag? Vaaltyn, my ou pakdonkie, het vemôre ok mit sy gat noord gestaan en dis ‘n teken hy wil skuil teen die noordewind wat gaat kom.”
Dis asof daar nou lewe in ou Hendrik kom. Hy sit ‘n pruimpie in sy kies, lig sy kop op en sê: “Neef Anneries, vannag kon ik nie slaap nie, want hier’s al heelwat van my veetjies vrek en die wat nog lewe, is blylê-maer. Toe lê en dink ik mos aan die mooi jare, die regte reënjare, dourie jare net na ik en Ketrina mekaar gevat hit. Onthou jy nog die blinnevliejaar? Og, neef, die oostewind het vir drie dae aaneen gewaai – die wêreld was later asvaal van die stof. Neef, toe draai hy mos om tot in sy kerf. Ik onthou nog hoe die noordewind deur die matjieshuis gehuil hit, maar ik het hom die nag gelê en wag, want ik hit geweet dis ‘n reënweer hierie. Darie jare hit dit kort-kort ‘n ou weertjie gegee, maar nousedae hit die onweer mos ‘n manier om sulke lang treë te gee na die volgende onweer. Dan gee hy pertymaal ok nog so ‘n klein somertjie in die middel van die winter.” Ou Andries word so meegevoer, dat hy ook voel om ‘n bietjie sout by te gooi. “Juistemint, neef, as die onweer ‘n slaggie breek, dan sien lê jy in die weste die watergal. (klein stukkie reënboog) Dan weet jy, hier kom ‘n deurslagreën.”
Andries stoot sy hoed agtertoe en sêvra: “Neef, hit jy nie ok die beesliewerk (beeslewerik –voëltjie) gehoor nie? Dis ok ‘n goeie teken. Enne, as die onweer in noord gaat lê, dan weet jy die volgende onweer is nie ver nie.” Ou Hendrik rol sy pruimpie van die een kies na die ander en sê: “Maar as hy suid draai, weet jy hy groet jou vir eers.” Hy is nou in ‘n beter stemming en hy wil net vervat, toe sê ou Andries: “Neef, jy moenie die suideweer so vlak kjyk nie – hy hit al baie keer onverwags vir ons ‘n lekker reëntjie gegee.” Hendrik skud sy kop. “Nee, neef Hennerik, ‘n suideweer is soos ‘n ou vrou se dansery – hy val met drif in en as jy weer kjyk, hit hy opgehou.” Andries gee ‘n grimmetjie. “Neef, ik hit goeie moed vir hierie jaar, want soos ik gestap-kom hit, hit die perdespringer (akkedis) op ‘n bos gelê en hy kjyk noord. Baie mense roep hom mos die ‘kaaiman’. Die miere werk ook van voordag af en maak hulle gaatjies toe.”
Dis of die geselskap nou ge-olie is, want ou Hendrik skuif sy veldstoel sonkant toe. “Ouvrou, ons bekers is koud … gooi vir ons, want ik wil vir neef Anneries vertel van die jaar toe ons twee mit ons veetjies Boesmanland toe getrek hit. Neef, die gha-graspolle hit so ‘n inkele grassprietjie gehad …. die voëls kon nie eens daarmee nes maak nie. Die onweer bly weg tot op ‘n môre, toe sien ons ‘n klein ou wolkie in die verte. Dit was nie lank nie, toe kry hy maters en hulle kom naders en naders. Ons hoor toe ook hy in die verte begin ghoeroe, maar hy maak nie uier soos ik wil hê nie. Ik seg laters vir Ketrina: ‘Lyk my dis van die suinige jaloerswere hierie wat niks vir ons gaat gee nie’. Hy’s so taai soos ‘n óú orrabok, maar ik sien laters by Snelsekop raak hy vaal. Ik seg toe by myselwers: ‘Hennerik, jy moenie staat en sône doen en die Liewen Heer in die oog steek nie … kyk hier kom die reën.’ Ons skuil onner die wakap, maar neef, jy sil my nie glo nie – die druppels is so groot soos my duim se nael – sulke tjurkdroë druppels!”
Andries skud sy kop ongelowig. “Jy seg hulle is droog, neef? Dit kan mos nie wees nie.” “Ja, neef, vra vir Ketrina. Toe die bui oor ons trek, was die stof so dik, lat ik nie my voordonkies staat en sien nie.” Andries lag, want hy sien weer die son skyn in sy ou buurman se binneste. “Neef Hennerik, jy klae nou so, maar jy hit die beste grond hier rond. Agter Skurfhoog lê mos darie sandlaagte en daar’s altyd ‘n graspolletjie wat nog lewe.” Hendrik raak nou ingenome met homself en gee ‘n kuggie. “Janee, neef, darie sandlaaagte, dis goeie grond. As hy die slag goed reën kry, is hy soos ‘n oujongnooi aan wie jy ‘n guns gedoen hit – hy onthou dit lewenslank.”
Andries vat sy kierie en maak aanstaltes om te loop toe Hendrik uit die bloute vra: “Neef, ik hoor Betjie is alweer mit-die-lyf – as die sleg Jan Pap ok net ‘n slag iets wil doen, al kap hy net ‘n slaggie die kraalbos om sy huis uit. Ik hou hom bedags fyn dop – hy trek mit sy veldstoel al mit die skade van die bloekomboom. As dit nie vir die boom was nie, hit die son hom al lankal vrek gebrand.” “Bedaar, ou buurman,” betig Andries hom. “Jan is darem nie so lui nie – kjyk sy mooi spannetjie kjinners.” Hendrik stik byna in sy eie pruimpie. “Ik wens net ik kan hom op ‘n dag mit my eige oë sien werk, maar ‘n mens kan mos nie vir hom koekeloer as hy mit anner dinge besig is nie!”
Andries trek die onderdeur agter hom toe. “Neef, ik loop nou eers, maar ik hit vir jou nuus. Toe ik vemôre by Jan Pap se huis kom, was hy hard besig om hout stukkend te maak lat die sweet hom afloop.” Hendrik se mond val oop en terwyl hy haastig opstaan, sê hy driftig: “Neef Anneries, kom lat ons die leivoor gaat skoonmaak, want dis die sekerste reënteken wat ik vanjaar nog van gehoor hit!”